fbpx

SJOKOLADEPOEDING DAG – 26 Junie 2019

Jy kan die pekanneute weglaat as jy wil, of jy kan die sous met ’n bietjie koffie of brandewyn geur vir afwisseling.

Sous
■ 60 ml kakao
■ 125 ml bruinsuiker
■ 310 ml kookwater

Beslag
■ 45 ml botter
■ 100 g donkersjokolade, gekap
■ 125 ml melk
■ 2 groot eiers
■ 160 ml strooisuiker
■ 250 ml bruismeel
■ 45 ml kakao
■ 1 x 100 g-pakkie pekanneute, grof gekap

Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n middelslag-oondbak of ramekins met botter of spuit met kleefwerende kossproei.

Meng die kakao, bruinsuiker en kookwater vir die sous saam in ’n beker tot die suiker opgelos is. Hou eenkant. Smelt die botter, sjokolade en melk saam tot glad en laat effens afkoel.

Klits die eiers en strooisuiker saam. Voeg die meel en kakao by die eiermengsel en roer dan die gesmelte sjokolademengsel en pekanneute by. Skep in die oondbak en giet die stroop daaroor.

Bak vir ongeveer 30-40 minute of tot ferm. Laat effens afkoel en sit voor met room of roomys. Lewer 8 porsies.

-Landbou Weekblad-

Image result for landbou logo

_____________________________________________________________________________________

SJOKOLADEFONDANT-POEDING IN ’N POTJIE

WAT JY NODIG HET
(Genoeg vir 8 mense)
Vir die beslag
1 eier
3 sopies botter (gesmelt)
½ koppie melk
½ sopie vanieljegeursel
1 koppie bruismeel
1 sopie kakaopoeier
’n knypie sout
½ koppie suiker
2 klein plakke donkersjokolade (80 g elk, in blokkies gebreek)
Vir die sous
1½ koppies bruinsuiker
2 sopies kakaopoeier
1½ koppies kookwater
Om voor te sit
Vars room of roomys

Laat waai!
1. Maak die beslag, deel 1: In jou nommertien-platboompotjie, klits die eier en gebruik dan jou houtlepel en meng die botter, melk en vanieljegeursel met die eier. So maklik soos dit.
2. Maak die beslag, deel 2: Gooi nou die meel, kakao, sout, suiker en opgekapte sjokoladestukke by die beslag van stap 1.
3. Gebruik net die suiker en kakao wat vir die beslag bedoel is, nie die sous se suiker en kakao nie – dit kom eers by die volgende stap. Alles moet deeglik meng, so vat ’n houtlepel en gee jou arm werk. As jy onfiks is, kul een van jou vriende of familielede om jou te help, of koop ’n staafmenger (dit het my lewe verander). Nadat jy dit deeglik gemeng het, het jy natuurlik deeg. Dit is waar die woord deeg vandaan kom.
4. Maak die sous: Meng die suiker, kakao en kookwater saam totdat al die suiker opgelos het en die mengsel glad is. Giet hierdie warm sous oor die beslag wat al klaar in die pot is. Moet dit nie roer nie, giet dit net oor.
5. Bak: Sit die potjie se deksel op en bak vir 25 minute deur kole onder die pot en ’n klompie kole op die deksel te pak.
6. Jou kunswerk is gereed wanneer die bokant van die poeding ferm onder jou vingers voel.
As daar ’n warm vuur aan een kant van die pot brand, draai nou en dan die pot, anders gaan die een kant van jou nagereg gaarder as die ander kant wees.
7. Sit dit met vars room of roomys voor.

– Jan Braai –

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *